SA man help soek na Maddie

Rapport, Oktober 07, 2007

http://www.rapport.co.za

Deur Maryna van Wyk

Bloemfontein

Die omstrede DNS-opsporingstelsel van mnr. Danie Krugel van Bloemfontein is gebruik in die soektog na Madeleine McCann, die vierjarige Britse meisie wie se raaiselagtige verdwyning al maande lank wêreldnuus is.

Krugel was middel Julie in Portugal en het ’n gebied uitgewys waar hy meen Maddie is. Dié inligting het hy aan haar ouers en die Portugese polisie oorgedra.

In sy verslag het Krugel ook gesê dis onwaarskynlik dat die meisietjie nog leef.

Maar tot dusver is geen poging klaarblyklik nog aangewend om in die gebied wat Krugel aangedui het na haar te soek nie.

Maddie het op 3 Mei verdwyn uit die woonstel in die vakansiedorp Praia da Luz, waar die McCanns vakansie gehou het.

Krugel is tagtig dae nä haar verdwyning soontoe.

Hy het met ’n haarmonster van Maddie ’n hooflyn van 700 m geïdentifiseer met ’n gebied van 50 tot 70 m aan weerskante van die lyn waar hy glo Maddie haar bevind.

Krugel het die verslag met ’n kaart en foto’s oorhandig aan die Portugese polisie, wat dit kort daarna aan Maddie se ouers, drs. Gerry en Kate McCann, gegee het.

Maddie se ma het glo in trane uitgebars toe sy Krugel se verslag onder oë kry.

In ’n skok-wending onlangs is die McCanns, wat die wêreld deurkruis het in hul soektog na hul verdwene dogter, sélf as verdagtes deur die Portugese polisie genoem. Hulle het ’n paar weke gelede teruggekeer na hul huis in Engeland.

Vir Krugel is dit ’n raaisel dat die McCanns nie aandring op ’n soektog in die gebied by Praia da Luz wat hy uitgewys het nie. Hy het tot verlede week nog met McCann gepraat en hom aangemoedig om private spanne te kry om dié strandgebied te fynkam. Krugel het eers die afgelope week oor sy besoek aan Portugal gepraat omdat hy in Julie gehoop het dat Maddie nog leef. Hy wou nie haar lewe in gevaar stel deur in die polisie-ondersoek in te meng nie.

Hy was bang Maddie se ontvoerders of moordenaars sou haar verskuif indien die gebied openbaar gemaak word. Nou, meer as vyf maan-de later, is daar weinig gevorder in die ondersoek.

Krugel is gefrustreerd. Hy het in Praia da Luz tydens sy verblyf van vier dae elke aand dieselfde sein naby die Mc- Canns se vakansieplek, die Ocean Club, gekry. Dié gebied aan die kuslyn sluit ook ’n paar woonhuise in.

Die meisietjie se verdwyning is die grootste ondersoek tot nog toe na ’n vermiste kind in Europa. Weldoeners van oor die wêreld heen het reeds hul sakke geskud en meer as £1 miljoen vir die Madeleine-fonds ingesamel. Volgens Sky News is sowat ’n derde van die geld reeds bestee aan ’n wêreldwye plakkaatveldtog, armbandjies, regskoste en salarisse.

Toe hy die McCanns voor sy ondersoek ontmoet het, het hy aan hulle gesê hy sal sy bes doen om hul kind op te spoor, sê Krugel. Hy het haarmonsters van Maddie by hulle gekry.

Krugel sê hy is ’n groot bedrag deur ’n oorsese media-instansie aangebied om Maddie op te spoor. Daarby ook honderde e-pos-boodskappe en telefoniese versoeke wêreldwyd om na haar te soek, sê hy.

“Ja, die moontlikheid is daar dat ek weer Portugal toe kan gaan,” sê Krugel.

Krugel se suksesse

Presies hóé mnr. Danie Krugel se DNS-opsporingsmasjien werk, is 'n geheim.

Krugel sê oor dié geheimhouding dat baie geld in die stelsel belê is en dat dié intellektuele eiendom baie werd is. Daar was weke gelede groot omstredenheid oor sy pogings om ná agttien jaar die raaisel van die ses slagoffers van die pedofiel Gert van Rooyen op te los.

Dié soektog is onlangs op die TV-program Carte Blanche uitgesaai. Krugel het hare van vier van die slagoffers gebruik en sy stelsel het ?n gebied naby Van Rooyen se huis uitgewys. Dáár is stukkies beendere gevind wat na 'n mediese laboratorium in Kaapstad gestuur is.

Maar hy het ook onbetwiste sukses behaal:

·  Die 15-jarige dogter van dr. Jos Chadinha van Bloemfontein het in November 2004 van die huis weggeloop. Met behulp van hare aan 'n borsel het Krugel binne 'n uur 'n paar huise in twee straatblokke aan die bekommerde pa uitgewys. Toe die meisie begin rondbeweeg, het Krugel haar wéér binne twintig minute opgespoor.

·  Me. Nancy Moeti, 'n huishulp van Tokoza, het in Julie 2005 spoorloos verdwyn. Toe haar werkgewers Krugel bel, het hy Moeti binne 24 uur opgespoor waar sy twee dae lank in die gang van 'n Oos-Randse staatshospitaal gelê het. Sy het haar sig verloor en was verward.

Krugel het ook die lykie van Naledi Ntebele (5) van Brandfort gevind binne dertig minute nadat die polisie sy hulp ingeroep het. Die lyk was onder 'n doringbos, met 'n skaapvel bedek, byna op die looplyn wat hy bepaal het. Die meisie was toe reeds 24 uur vermis.